Kommunale boere op rand van hongersnood
Boere in Okomungondo en omliggende dorpies in die Omaheke-streek se Aminuis-kiesafdeling het aansienlike verliese gely, met meer as 100 beeste wat tussen September en Desember in die erge droogte beswyk het. Kommunale boere sê die plaaslike bevolking staar hongersnood in die gesig. Hulle het glo nog net een keer droogtehulp van die regering ontvang, bestaande uit een sak mieliemeel, vier blikkies vis en ‘n bottel kookolie. Die streek-kiesafdelingsraadslid, Peter Kazongominja, erken die uitdagings en sê hulle kan net wag vir die regte kantore om hulpbronne na die boere te bring.