Hoogste hof in VSA sal oor aborsie-pil besluit

Die Amerikaanse Hooggeregshof het ingestem om volgende jaar mondelinge argumente aan te hoor in ‘n saak wat die toekoms van Mifepristone kan bepaal. Dis een van die twee middels wat tipies in medikasie-aborsies gebruik word. Verlede jaar het ‘n vereniging van anti-aborsie-organisasies en dokters, die Alliance for Hippocratic Medicine, ‘n federale regsgeding aanhangig gemaak, met die argument dat die Amerikaanse Voedsel- en Dwelmadministrasie sy gesag oorskry het toe Mifepristone in 2000 goedgekeur is. Die Departement van Justisie sê die onttrekking van die middel sal skadelik wees vir vroue en gesondheidsorgverskaffers regoor die land.