Olimpiese Spele-werk beskadig koraalrif in Tahiti

Olimpiese Spele: Frankryk oorweeg dit nie om die branderry-kompetisie van volgende jaar se Spele van die eiland Tahiti af te verskuif nie, ondanks toenemende kritiek weens vrese oor die uitwerking op die omgewing. Dit volg nadat ‘n vragskuit vroeër hierdie maand ‘n koraalrif by Teahupo’o beskadig het. Die vaartuig is gebruik om die toring vir die beoordelaars te bou. Die minister van Sport, Amelie Oudea-Castera, hou vol die geleentheid sal nie geskuif word nie en sê daar s geen Plan B nie. Verskeie van die wêreld se beste branderryers is ongelukkig omdat die kompetisie by die Frans-Polinesiese oord gehou word.