Baba-renoster laat kenners jubel

Omgewingskundiges juig oor die geboorte van ‘n skaars Sumatraanse renoster in Indonesië. Die kleinste van alle renosters is op die lys van kritiek-bedreigde spesies en daar is slegs sowat 40 in die  wêreld oor. Hulle word nog net op die Indonesiese eilande Sumatra en Borneo aangetref nadat dit ook inheems was aan Bhutan, Indië, Mianmar en Thailand. Die kalf het met geboorte sowat 25-kilogram geweeg. Dit is die eersteling van die sewejarige Delilah, terwyl sy pa, Harapan, vroeër uit Cincinatti oorgeplaas is.