Nuwe kliniese tender in ‘onmoontlike’ 24 uur evalueer

Die gesondheid-ministerie se gekanselleerde sogenaamde kondome-tender en die nuwe tender wat daarna uitgesit en deels toegeken is, bly in die nuus. Die nuwe ses-maande tender is geadverteer vir 135 items teen ‘n geraamde totaal van 67,5 miljoen Namibiese dollar, maar net 87 items daarvan is toegeken aan 10 maatskappye vir 23,3 miljoen dollar. Die Sentrale Verkrygingsraad se evaluasie komitee het egter net 24 uur geneem om die nuwe tender te evalueer nadat dit gesluit het, wat volgens die Tender Bulletin “onmoontlik is om reg te kry”. Die tender het 83 bieërs gelok, waarvan 39 nuwelinge was, asook 44 tenderaars van die gekanselleerde tender. Amnics Trading, wat in die oorspronlike tender-proses beskuldig is van winsbejag, het nie hierdie keer ‘n bod geplaas nie.