VSA se steun vir Israel nie meer so gewild nie

Openbare steun in Amerika vir Israel se oorlog teen Hamas-militante in Gaza is besig om te kwyn, volgens ‘n nuwe Reuters/Ipsos-peiling. Sowat 32 persent van respondente in die tweedaagse meningspeiling, wat Dinsdag gesluit het, sê “die VSA moet Israel ondersteun” toe hulle gevra is watter rol die Verenigde State in die gevegte moet speel. Dit was af van 41 persent wat gesê het Amerika moet Israel steun in ‘n Reuters/Ipsos-peiling wat op 12 en 13 Oktober gedoen is. Die aandeel wat sê “die VSA moet ‘n neutrale bemiddelaar wees” het tot 39 persent gestyg van 27 persent ‘n maand vroeër. Vier persent van die respondente het gesê die VSA moet Palestyne ondersteun en 15 persent het gesê Amerika moet glad nie betrokke moet wees nie, soortgelyk aan ‘n maand gelede.