Daar is g’n koning en koningin in Namibië nie
Die minister van landelike ontwikkeling, Erastus Uutoni, sê dat gemeenskappe en hul tradisionele leiers die korrekte tradisionele titels moet gebruik wanneer daar na tradisionele leiers verwys word. Volgens die minister is die gebruik van die terme “koning” en “koningin” met verwysing na tradisionele leiers grondwetlik en wetlik verkeerd. Hy sê dat titels soos Ohamba, Hompa, Ombara, Omukwaniilwa, Gaob, Nkosi, Fumu onder andere, binne die wet is. Die minister het derhalwe aanbeveel dat lede van tradisionele gemeenskappe en leiers hierdie terme in plaaslike tale gebruik, selfs wanneer hulle Engels praat. Uutoni het beklemtoon dat die regering van sy kant sal voortgaan om dieper harmonisering van gewoontereg en die rol van tradisionele owerhede as deel van die bestuurstrukture van die land te bevorder.