Netumbo rits rond, moedig boere aan om te diversifiseer

Swapo se visepresident, Netumbo Nandi-Ndaitwah, het ‘n besige naweek agter die rug. Na die saamtrek Saterdag in die hoofstad is sy Sondag Gobabis toe vir nog ‘n Swapo byeenkoms. Daar het sy boere versoek om hul bedrywighede te diversifiseer deur vee en gewas- of tuinbouproduksie te kombineer. In haar mening het Omaheke die potensiaal om ‘n produksie- en nywerheidsentrum te word, maar landbou-aktiwiteite behoort nie by primêre produksie binne die waardeketting te eindig nie. Boere moet eerder daarop fokus om waardetoevoegingsbedrywe te vestig. Sy het boere aangemoedig om aan te hou selfs wanneer dit moeilik gaan, aangesien landbou ‘n prioriteit vir die regerende party is en hulle daartoe verbind is om die sektor te ontwikkel.