Parlement kort begrotingskantoor: ekonoom
Die Nasionale Vergadering kan slegs die uitvoerende gesag vir begrotingsuitgawes verantwoordelik hou as hy ‘n volwaardige begrotingskantoor daarstel, volgens die ekonoom Omu Kakujaha-Matundu. Hy sê alhoewel die parlement ‘n begrotingskomitee het, het dit nie die vermoë om die uitvoering van die nasionale begroting te ondersoek en toesig daaroor te hou nie. Hy voeg by dat parlementslede mediese dokters, ingenieurs, verpleegsters, onderwysers en so meer is, en hulle het nie dieselfde insig as personeel in byvoorbeeld die finansministerie nie. Hy het tydens ‘n ontbytvergadering om die halfjaarbegroting te bespreek bygevoeg dat die parlement nie genoeg hulpbronne kry om sy mandaat uit te voer nie.