Klein asteroïde bring groot verrassing
‘n Klein asteroïde wat hierdie week deur Nasa se Lucy-ruimtetuig besoek is, het ‘n groot verrassing vir wetenskaplikes gehad. Dit blyk dat die asteroïde Dinkinesh ‘n piepklein metgesel het, in die vorm van ‘n mini-maan. Die ontdekking is gemaak tydens Woensdag se verbyvlug van Dinkinesh, 480 miljoen kilometer van die aarde af in die hoof-asteroïdegordel anderkant Mars. Die ruimtetuig het ‘n foto van die paar geneem toe dit sowat 435 kilometer van hulle af was. In data en beelde wat na die aarde teruggesein is, het die ruimtetuig bevestig dat Dinkinesh skaars 790 meter in deursnee is. Sy maan wat om hom wentel, is net 220 meter lank.