Grootste blou diamant kom op veiling

Die grootste intern foutlose helderblou diamant wat ooit op ‘n veiling aangebied is, kan volgende week vir tot 50 miljoen Amerikaanse dollar verkoop word by ‘n Christie’s-veiling van seldsame juwele in Genève, het die afslaer gesê. Die blou diamant van 17,6 karaat, wat in ‘n ring geset is, staan bekend as “Bleu Royal” en tel onder van die skaarsste wat ooit gemyn is. Die afslaer sal ook ‘n Rolex-polshorlosie aanbied wat deur Marlon Brando in die 1979-film “Apocalypse Now” gedra is. Die akteur het sy handtekening agterop gegraveer en die horlosie is twee jaar gelede vir 2,2 miljoen dollar op ‘n veiling verkoop.