Bokke draf vanaand uit vir landsburgers
Die Springbokke sê hulle speel vanaand vir hulle mede-Suid-Afrikaners in die Wêreldbeker-eindstryd teen die All Blacks in Parys. Die vleuel Cheslin Kolbe en hulp-afrigter Mzwandile Stick het eer betoon aan die span se miljoene aanhangers, tuis én wêreldwyd, wat die Bokke se naelbyt-oorwinnings in die kwart- en die halfeindronde geesdriftig gevier het. Hulle sê die hoofdoel is om steeds die nasie te besiel en hoop te bring vir alle mense. Die spelers beklemtoon die ondersteuning van die huis af is baie spesiaal vir die span.