Angula sê Amupanda boelie, veral vroue, op sosiale media

Die omstrede getuie in die lastersaak tussen die adjunkminister van finansies Maureen Hinda-Mbuende en Job Amupanda, Vitalio Angula, het sy verklaring in die saak ingedien. Hy is ‘n getuie vir Hinda-Mbuende en sê na opleiding het hy besef Amupanda boelie op sosiale media, veral vroue. Amupanda vra nou toestemming om sy verklaring uit te brei wat die adjunkminister teenstaan. Hinda-Mbuende dagvaar Amupanda vir ‘n miljoen dollar in skadevergoeding na hy ‘n plasing oor haar op sosiale media gemaak het. In die plasing sê hy, saam met ‘n foto van haar, “It looks like deputy minister of finance Maureen Hinda during the liberation struggle. Maureen was soo WizWiz. It’s like she won’t think twice about taking a knife out!” Sy sê die publiek sal aflei dat sy graag baklei en gewelddadig is. Die plasing is op 28 Julie in 2021 gemaak. Amupanda verdedig die saak en sê Hinda-Mbuende is kwaad vir hom omdat sy hom na ‘n hotel uitgenooi het en hy nee gesê het. Regter Collins Parker vra die partye om vandag voor te kom om die status van die saak te bepaal.