NLU vra samewerking met nasionale sensus
Die Namibiese Landbou-unie sê in ‘n verklaring hy is in gereelde kontak met sy lede sowel as die Namibiese Statistieke-agentskap oor die sensus. In die lig van verskeie video’s wat op sosiale media die rondte doen wat die teistering van data-opnemers uitbeeld, sê hy distansieer hom uitdruklik van enige sulke optrede en voeg by sulke gedrag is teenstrydig met die beginsels van professionaliteit en respek wat die unie handhaaf. Hy sê hy veroordeel enige vorm van teistering en nie-samewerking. Teistering van data versamelaars ondermyn die integriteit van die Bevolking- en Behuisingsensus en dra nie by tot die verbetering van die samelewing nie. Dit belemmer die insameling van akkurate data, wat noodsaaklik is vir ingeligte besluitneming en billike hulpbronverspreiding. Hy doen ‘n beroep op sy lede om met die opnemers saam te werk en om enige voorvalle van teistering stiptelik aan te meld. In die lig van die huidige misdaadsituasie op plase, versoek die unie dat die sensus personeel ook van hul kant af professioneel en sensitief optree om doeltreffende dataopneming te bewerkstellig.