93% van Afghane sal nie vandag genoeg kos hê nie

Uit elke 100 Afghaanse burgers sal net sewe vandag genoeg kos hê om te eet. Die land het reeds voor die Taliban oorgeneem het uitdagings gehad met wanvoeding en terwyl daar in die afgelope 20 jaar miljarde in hulp in die land ingepomp is, is korrupsie algemeen. Miljoene landsburgers woon in absolute armoede wat vererger is na die oorname deur die Taliban. Wêreldinstansies het hulp en bystand sedertdien onttrek. Die VSA het ook meer as 9 miljard Amerikaanse dollar wat in die land belê is namens Afghanistan se sentrale bank, gevries. Die prys van voedsel neem ook toe en mense verkoop op die oomblik meubels, toestelle en meer op straat om geld te maak. Die internasionale gemeenskap is tans in ‘n moeilike posisie omdat hy die Taliban nie erken nie maar die humanitêre krisis wat tans in die land ontvou maak dit moeilik om nie bystand te verleen nie. Vir die land se burgers om ‘n redelike lewenstandaard te handhaaf moet die Taliban ‘n redelike land hê om te regeer.