50cm se dunderm oor na baarmoederskraap, sê vrou

Die Namibiese gesondheidsministerie word vir 4,5 miljoen Namibiese dollar gedagvaar vir skade vergoeding. Riana Roman sê sy is geopereer en daar is baie skade aan haar liggaam aangerig. Volgens haar stukke is daar aan haar dunderm gesny na ‘n miskraam en ‘n baarmoederskraap in Swakopmund by die staatshospitaal. Sy sê aan die hof dat sjirurge in die hoofstad gevind het daar is ‘n skamele 50 sentimeter van haar dunderm oor en haar blaas is ook beskadig. Sy kan nie meer voldoende voedingstowwe inneem nie en kan ook net vloeistof inneem. Sy maak staat op ‘n ongeskiktheidstoelaag omdat sy nie meer kan werk nie. Sy voer aan dat die operasie sonder enige toestemming van haarself of haar familie gedoen is. Sy sê verder dat mediese personeel in Swakopmund bevestig het ‘n fout is begaan tydens die operasie. Die ministerie verdedig die saak wat vandag voorkom vir ‘n status verhoor voor regter Hannelie Prinsloo.