356 gevangenes het MIV, kondome steeds onwettig

Daar word berig dat minstens 356 gevangenes regoor Namibië MIV-positief is. Die woordvoerder van Korrektiewe Dienste, kommissaris Sam Shaalulange het die syfers aan plaaslike media bevestig maar het bygevoeg dat daar geen data is oor hoe die siekte in plaaslike tronke versprei nie. Kondome word steeds nie toegelaat in tronke in die land nie, alhoewel die voormalige minister van gesondheid Dr Bernard Haufiku vroeër ‘n beroep daarvoor gedoen het. Volgens Shaalulange is dit op die oomblik nie moontlik om kondome aan gevangenes te voorsien nie omdat sodomie steeds onwettig is. Hy voeg by dat wetgewing vir die verspreiding van kondome aan gevangenes ook geskep moet word. Daar moet ook bewyse wees dat MIV in tronke versprei het hy gesê.