21-jarige leerder in Angola doodgeskiet

Berigte lui dat ‘n 21-jarige Namibiese leerder doodgeskiet is in Angola na hy Covid-maatreëls verontagsaam het. Die leerder, wat skoolgaan by die Shaanika Nashilongo Sekondêre Skool, het volgens wat berig word by Oshinengula, teen die grens aan die Angolese kant, by ‘n kroeg gekuier toe die polisie opgedaag het en geëis het dat die eienaar die plek sluit. ‘n Onderonsie het ontstaan en die leerder is in die kop geskiet. Hy is eers na die Outapi distrikshospitaal gehaas en daarna oorgeplaas na Oshakati toe maar, hy het aan sy wonde beswyk. Owerhede in die Omusati-streek sê daar is nie ‘n aandklokreël in Angola nie en dus, steek Namibiërs die grens oor wanneer kroeë plaaslik sluit.