Streng nuwe maatreëls by grensposte teen bek-en-klouJuly 4, 2025

Die Direktoraat Veeartsenydienste het verhoogde biosekuriteitsmaatreëls by grensposte ingestel, weens die toename in bek-en-klouseer gevalle in sommige buurlande. Die wiele van alle voertuie wat die land binnekom sal met ‘n ontsmettingsmiddel skoon gespuit word. Elke persoon moet met hul skoene deur ‘n ontsmettingsvoetbad loop. Alle ander skoene in bagasie moet ook in die voetbad geplaas word vir ontsmetting. Vragmotors wat vee na Suid-Afrika vervoer, moet deeglik gewas en ontsmet word voordat hulle na Namibië terugkeer. Hulle sal net met ‘n geldige ontsmettingssertifikaat die land kan binnekom. Die invoer van onverwerkte veevoere moet ook streng voldoen aan die permitvereistes. Voertuie sal geïnspekteer word vir enige ongeoorloofde produkte soos rou vleis, suiwel en ander ongeprosesseerde produkte van gesplete hoefdiere, insluitend biltong en droëwors wat nie vooraf gekook is voordat dit drooggemaak is nie.