Ses dood en 11 beseer op land se paaie die naweekJune 30, 2025
Ses mense is die afgelope naweek dood en elf beseer in motorongelukke op die land se paaie. Drie mense is Saterdag op die B1 suid van Rehoboth dood toe die voertuig waarin hulle van Keetmanshoop na Grootfontein onderweg was, gerol het. Die bestuurder het uitgeswaai vir ‘n tenk wat afgeval het van die voertuig voor hom en beheer oor die motor verloor. In nóg ‘n voorval Saterdag op die B1 naby Rehoboth is twee mense dood en vyf ernstig beseer in ‘n tromp-op-botsing tussen ‘n minibus en ‘n sedanmotor. Op die gruispad tussen Uis en Hentiesbaai is ‘n 19-jarige seun Saterdag dood en ses beseer toe ‘n Land Cruiser met 18 sokkerspelers onderweg na ‘n toernooi gerol het. ‘n Agterband het gebars en die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor. Die polisie ondersoek sake van manslag en roekelose en nalatige bestuur.