Die brrrrr duur voort in Junie, Mei koudste in 15 jaar June 20, 2025

Namibië het verlede maand sy derde koudste Mei vir die afgelope 15 jaar aangeteken. Volgens die klimaatbulletin van die Namibiese Meteorologiese Diens, was die gemiddelde oppervlaktemperatuur vir Mei 18.8 grade Celsius, 0.4 grade Celsius onder die gemiddelde van 1991 tot 2020. Die diens sê gemiddelde temperature tussen 13 en 16 grade Celsius is oor die sentrale dele van die land aangeteken, hoofsaaklik as gevolg van frontale stelsels en die suidwestelike Namib en kusgebiede het warmer temperature bo 20 grade ervaar as gevolg van ooswindtoestande. Volgens die bulletin is afkoeling oor die noordelike en sentrale dele aangeteken. Daar word voorspel dat die grootste deel van die land hierdie maand ondernormale gemiddelde temperature sal ervaar.