Diefstal laat Uis se krane droogJune 17, 2025

Koperdraad-diefstal het weer watertoevoer in die Erongo-streek onderbreek, hierdie keer by Uis. NamWater sê dit is weens diefstal en vandalisme langs ErongoRed se kragtoevoerlyn na die Nei-Neis waterskema. Die skema voorsien water aan die gebied en sonder elektrisiteit kan NamWater se boorgate en versterkerstasies nie werk nie. ErongoRed se tegniese spanne werk aan die kraglyn en dit sal sowat twee dae neem om elektriese toevoer te herstel. NamWater voorsien dat volle watertoevoer teen Vrydag op die laatste herstel sal word. Dit volg op diefstal en vandalisme wat onlangs watertoevoer aan Hentiesbaai en Swakopmund beïnvloed het.