Dwelms bly ‘n kopseer vir NamPol June 16, 2025
Vier verdagtes is die afgelope naweek in afsonderlike dwelmverwante voorvalle in hegtenis geneem. Twee van die arrestasies was op Walvisbaai. Die polisie het Vrydagaand ‘n vrou in Narraville in hegtenis geneem omdat sy na bewering in besit van dagga ter waarde van 850 Namibiese dollar was. Dieselfde aand is ‘n man in Kuisebmund in boeie geslaan ná hy glo Mandrax-pille ter waarde van 1 200 dollar in sy besit gehad het. Ook op Vrydag is ‘n man in die Ongenga-area in hegtenis geneem omdat hy na bewering dagga ter waarde van 1 736 dollar by hom gehad het. By die weegbrug op die Trans-Kalahari-hoofweg in die Epako-omgewing is ‘n man Saterdag aangekeer vir die beweerde besit van dagga en Mandrax ter waarde van 2 060 dollar.