Noord-Korea gryp drie oor blaps met oorlogskipMay 25, 2025
Noord-Korea het drie amptenare in hegtenis geneem wat glo verantwoordelik was vir ‘n blaps verlede week tydens die bekendstelling van ‘n nuwe oorlogskip. Die ongeluk voor Kim Jong-un het die vyfduisend-ton-oorlogskip laat omkantel. Volgens staatsmedia is dit deur ‘n verlies aan balans veroorsaak. Die Noord-Koreaanse diktator het dit ‘n “kriminele daad” genoem en onderneem om die skuldiges te straf. Die hoofingenieur van die skeepswerf, die hoof van die rompkonstruksiewerkswinkel, en die adjunkbestuurder vir administratiewe sake is na ‘n ondersoek in hegtenis geneem.