Verlore 1976 Motörhead-album word uiteindelik vrygestel in JunieMay 12, 2025

Motörhead se legendariese en verlore album van 1976, The Manticore Tapes, sal uiteindelik op 27 Junie 2025 vrygestel word. Die album bevat opnames van die klassieke trio van die groep: Lemmy Kilmister, Fast Eddie Clarke en Phil “Philthy Animal” Taylor.

Die album is vernoem na die bekende Manticore Studio in Fulham, Londen – wat aan Emerson, Lake & Palmer behoort het – waar hierdie opnames oorspronklik gemaak is.
Aanhangers kan uitsien na uitgawes op LP en CD, wat alternatiewe weergawes, instrumentale snitte en vroeë opnames van liedjies van Motörhead se selfgetitelde debuutalbum, sowel as van hul 1979-album On Parole, insluit.

‘n Spesiale luukse weergawe sal beskikbaar wees met ‘n tweede skyf wat die lewendige optrede Blitzkrieg on Birmingham ’77 bevat, asook ‘n nooit-tevore-vrystelling 7-duim plaat met twee regstreekse opnames.
Die oorspronklike opnames is sorgvuldig gerestoureer deur Cameron Webb, ’n jarelange medewerker van die groep, by Maple Studios in Kalifornië. Die finale bemeesteringsproses is deur Andrew Alekel by Bolskine House in Los Angeles afgehandel.

Hierdie albumuitreiking is deel van Motörhead se 50ste bestaansjaar-vieringe. In ‘n ander spesiale huldeblyk sal ‘n standbeeld van die ontslape voorsanger Lemmy Kilmister in sy tuisdorp Burslem, Stoke-on-Trent, opgerig word. Dit val saam met die 10de herdenking van sy dood op 28 Desember 2015, toe hy op 70 oorlede is.

Die twee meter hoë bronsbeeld, geskep deur plaaslike kunstenaar Andy Edwards, beeld Lemmy in sy kenmerkende sangposisie uit. Die onthullingsgeleentheid sal ‘n motorfietsparade, gassprekers en ‘n 21-geweersaluut insluit. ‘n Gedeelte van Lemmy se as sal in die beeld begrawe word – ‘n simboliese laaste rusplek vir die rocklegende.

Foto verskaf