Vrae oor begroting vir 13 stadionsMay 9, 2025

Plaaslike media berig vanoggend dat daar vrae is oor die toewysing van 235 miljoen Namibiese dollar om 13 sportstadions tydens die huidige finansiële jaar te bou en op te knap. Kenners meen dis ’n druppel aan die emmer vergeleke met vroeë beramings dat die herstel van die Onafhanklikheidstadion in Windhoek alleen ’n yslike 2 miljard dollar sal kos. Die regering moet verseker die geriewe voldoen aan die standaarde van die Confederation of African Football , oftewel CAF. Volgens die lynminister Sanet Steenkamp sal ses CAF kategorie 2- en sewe CAF kategorie 3-stadions daargestel word, teen 2029. Brave Warriors-legende en sokkerklubeienaar, Congo Hindjou, sê aan Namibian Sun die regering se begrotingstoewysing strook nie met sy ambisieuse planne nie omdat 2 miljard dollar nodig is vir die opknapping van die Onafhanklikheidstadion. Hy vra of dit moontlik ‘n tikfout is. Nog ’n analis Olsen Kahiriri meen meeste skole het reeds stadions en dat hulle opknapping vir die doel kan ontvang.