Toergids dien klagte in oor Etosha-amptenare se gedragApril 23, 2025
‘n Onsmaaklike insident by die Galton-hek in Etosha het die veteraan toergids Yvonne von Holtz genoop om ‘n formele klagte by die omgewingsministerie in te dien oor amptenare se beweerde teistering, intimidasie en prosedurele wangedrag. Von Holtz kla oor ‘n uitgebreide, ure-lange deursoeking van haar voertuig, met twee bejaarde Duitse toeriste by die hek. Kosmos 94.1 Nuus het gepoog om kommentaar te kry. Die hoof van die polisie in die park, kommissaris Naftal Sakaria het ons verwys na die omgewingsministerie se adjunk-direkteur vir Etosha Nasionale Park, Naambo Iipinge. Sy het gesê sy kan nie kommentaar aan die radio lewer nie en die klaer moet eerder die ministerie nader. Volgens Von Holtz is hulle in die reën gelaat en herhaaldelik ondersoek van net na twee tot ses-uur. Baboab-peule is gekonfiskeer omdat die bome blykbaar bewaar is en daar was geen kwitansie nie. Volgens Von Holtz is die gedroogde peule by ‘n informele handelaar gekoop. Haar gaste het daarna hulle besoek aan Sossusvlei gekanselleer.