Kritieke diagnostiese toetse nou ook in dorpe beskikbaarApril 16, 2025

Die Namibië Instituut vir Patologie het die desentralisasie van ‘n reeks kritieke diagnostiese toetse aangekondig wat voorheen slegs by die sentrale laboratorium in Windhoek beskikbaar was. Die instituut sê die skuif is daarop gemik om toegang tot gesondheidsorg te verbeter en om omkeertye te verkort. Essensiële toetse soos MIV vroeë baba-diagnose, hepatitis E, troponien T, D-dimer en prostaatspesifieke antigeen is nou beskikbaar in laboratoriums in dorpe insluitend Opuwo, Okahao, Khorixas en Karasburg. Die inisiatief het reeds die druk op die Windhoek-fasiliteit verlig en diagnostiese wagtye landwyd verkort. Die instituut het ook aansienlik belê in die opgradering van sy infrastruktuur en het 22 uit 38 verouderde instrumente vervang in sy 37 laboratoriums in al 14 streke.