Bryan Adams onthul die waarheid agter ‘Summer of 69’-liriekeApril 15, 2025
In ’n nuwe episode van die Help Musicians-podcast, I Never Thought It Would Happen, deel Bryan Adams nie net die waarheid agter sy ikoniese liedjie “Summer of 69” nie, maar ook die impak van die pandemie op sy lewe en loopbaan.
Die Kanadese rocklegende het erken dat die beroemde reël “I got my first real six string / bought it at the Five and Dime” nie heeltemal akkuraat is nie. Sy eerste kitaar was nie van ’n Amerikaanse winkel nie, maar is gekoop by ’n musiekwinkel in Reading, Engeland, toe hy net 12 jaar oud was – en dit was in 1970, nie 1969 nie.
Dié kitaar, ’n nagemaakte Stratocaster, het vir dekades verlore geraak ná Adams se gesin na Israel verhuis het. Hy het dit by ’n buurman agtergelaat en eers jare later weer daarvan gehoor, toe iemand hom kontak en sê hulle het sy kitaar. Al het hy nooit weer iets van die persoon gehoor het nie, het ’n vreemde man hom meer as tien jaar later in Berlyn genader met dieselfde kitaar. Die oorspronklike kontakpersoon het in ’n vliegtuigongeluk gesterf, maar sy vriend het Adams opgespoor en die kitaar aan hom teruggegee.
Adams het ook gepraat oor sy werk aan die musiekblyspel, Pretty Woman, saam met sy jarelange medeskrywer Jim Vallance. Hy beskryf die ervaring as “liedjieskryf deur komitee”, waar talle partye insae gehad het in die skeppingsproses. Hoewel omtrent 40 liedjies geskryf is, het net 20 dit uiteindelik gemaak.
Tydens die pandemie het Adams onverwags ’n seën daarin gevind. “Dit was die beste tyd vir ons as ’n gesin,” sê hy. “Ek kon nie toer nie, so ek was net tuis. Dit was ’n lewensredder.” Maar loopbaan-onsekerheid het ook toegeslaan. Hy het geglo hy sal nooit weer optree nie, totdat hy in Portugal opgetree het voor ’n gehoor met maskers – ’n vreemde, gedempte ervaring. Adams glo nie mense sal weer so maklik ingrendel as daar weer ’n pandemie uitbreek nie.
Die podcast, aangebied deur Chris Difford van Squeeze, bring legendariese kunstenaars saam om hul stories te deel. Die vyfde seisoen beloof nóg groter name soos Gary Kemp van Spandau Ballet.
Help Musicians se uitvoerende hoof, Sarah Woods, beklemtoon hoe belangrik hul werk is om musikante te ondersteun – nie net tydens krisisse nie, maar deur hul hele loopbane.

Foto verskaf