G’n tekort aan ‘greenback’, sê Zimbabwe

Zimbabwe se sentrale bank het ontken dat dié land ‘n tekort aan buitelandse valuta het. Daar is meer as genoeg Amerikaanse dollar om in die vraag te voorsien, het die president van die sentrale bank, John Mushayavanhu, die staat se uitsaaier verseker. Die sakesektor het ‘n beroep op die owerhede gedoen dat die wisselkoers tussen die Zimbabwese geldeenheid, die ZiG, en die Amerikaanse dollar deur markkragte bepaal word. Sowat 70 persent van transaksies word in greenback vereffen. Die sentrale bank het die ZiG in September verlede jaar met 43 persent gedevalueer, maar dit was die afgelope weke relatief stabiel.