Krieket: Aussies lag-lag deur na halfeindstryd
Australië is maklik deur na die Kampioenetrofee-halfeindstryd nadat hulle laaste Groep B-wedstryd teen Afghanistan Vrydagaand in die Gaddafi-stadion in Lahore laat vaar is. Met ‘n wenteiken van 274, het Australië 109 vir een op die telbord gehad in die 13de beurt toe swaar reën spel in die wiele gery het. Die kolfblad was bedek, maar die buiteveld het deurnat gelyk, wat die amptenare spel laat beëindig het. Suid-Afrika, wat drie punte het en vandag te staan kom teen Engeland, wat reeds uitgeskakel is, lyk of hulle by Australië in die halfeindstryd sal aansluit.