Bom dood 11 by M23-saamtrek in DRK
Minstens 11 mense is dood en sowat 60 beseer in ʼn ontploffing by ʼn saamtrek van die M23-rebelle in Bukavu in die oostelike Demokratiese Republiek die Kongo. Dit was die eerste saamtrek wat die Rwandees-ondersteunde rebelle in die stad gehou het sedert hulle dit vroeër die maand by regeringsmagte afgeneem het. Die rebelle beskuldig die Kongolese owerhede en sê die lafhartige en barbaarse aanval sal nie sonder gevolge wees nie. Die DRK-president, Felix Tshisekedi, het die aanval as ʼn afskuwelike daad van terrorisme beskryf.