Tesla-aandele daal skerp na verkope in VK, EU val

Aandele in die elektriese motorvervaardiger, Tesla, het meer as nege-persent gedaal nadat verkope in die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk verlede maand byna halveer het. Die maatskappy se waarde het daarmee die eerste keer sedert November tot onder ‘n duisend-miljard-dollar teruggesak. Tesla se verkope het verlede jaar die eerste keer in meer as ‘n dekade gedaal namate die vraag daal en mededingers verbeter. Boonop is die eienaar, Elon Musk, omstrede aan albei kante van die Atlantiese Oseaan as ‘n noue bondgenoot van die Amerikaanse president, Donald Trump.