Patogene gis in sprinkane in SA gevind

Suid-Afrikaanse navorsers het vir die eerste keer bevestig bruin sprinkane dra die patogene gis, Candida auris, wat weerstandig is teen medikasie en wêreldwyd ʼn bedreiging vir gesondheid inhou. Hierdie gis kan ernstige infeksies by mense met verswakte immuunstelsels veroorsaak. Wetenskaplikes van die Universiteit van die Vrystaat, die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens en die Universiteit van Venda het flukonasool-weerstandige stamme in sprinkane se spysverteringskanale gevind, wat kommer wek oor omgewingsverspreiding. Hoewel gesonde individue ‘n lae risiko het, beklemtoon navorsers die behoefte aan nuwe antifungale behandelings.