Iran se uraanverryking versnel

Iran se uraanvoorraad naby wapensgraad het gespring sedert dit in Desember ‘n dramatiese versnelling in verryking aangekondig het, volgens twee verslae van die Internasionale Atoomenergie Agentskap. Die uraanvoorraad wat tot 60 persent verfyn is in die vorm van uraan-heksafluoried het in die afgelope drie maande met 92,5kg gegroei tot 274,8kg, lui een van die verslae. Dit is in beginsel genoeg, indien dit verder verryk word tot 90 persent, vir ses kernbomme. Daar is genoeg vir meer wapens op laer verrykingsvlakke.