Iishanas styg vinnig, Ruacana vertoon ook goed

Die Namibiese Hidrologiese Diens waarsku oor die styging in die iishanas in die noorde en herinner inwoners om hulle nie oor te steek nie. Tussen Ongwediva en Oshakati het die Okandjengedi-stasie in 24 uur van 0,63 meter tot 1,7 meter gestyg na goeie neerslae. Die Kunene-rivier vloei ook al hoe beter en by Ruacana is 342,5 kubieke meter per sekonde aangeteken, hoër as verlede jaar se 332,1. Die Okavango by Rundu styg ook steeds en is tans op 6,78 meter terwyl die Zambezi by Katima op 1,46 meter gemeet is. Daar is geen lesing vir Sendelingsdrif, wat Dinsdag op 0,04 gemeet is, in die benede Oranje nie en by Blouputs staan die rivier op 0,44 meter.