Beloning vir muskiete in Filippyne

Owerhede in een van die Filippyne se mees digbevolkte stedelike gebiede bied ‘n kontantbeloning aan vir muskiete in ‘n poging om die verspreiding van knokkelkoors te keer. Dorpshoof Carlito Cernal van Barangay Addition Hills in sentraal-Manila, het ‘n beloning van net minder as 2 Amerikaanse sent vir elke vyf muskiete of larwes aangekondig. Cernal sê 21 mense het reeds die beloning geëis vir 700 muskiete en larwes wat ingebring is. Knokkelkoors is endemies aan tropiese lande, en die uitbrekings kom gereeld voor in stedelike gebiede met swak sanitasie.