Uganda baal vuis vir DRK

Die hoof van die Ugandese weermag, generaal Muhoozi Kainerugaba, het Saterdag in ‘n plasing op X gesê die land sal die dorp Bunia in die aangrensende oos-DRK aanval, tensy “alle magte” daar hul wapens binne 24 uur oorhandig. Kainerugaba, wat ‘n geskiedenis het van aanhitsende opmerkings oor buitelandse beleid, het gesê hy het die goedkeuring van sy pa, president Yoweri Museveni. ‘n Woordvoerder van Uganda se militêre magte wou nie kommentaar hierop lewer nie. Die DRK se eerste minister, Judith Suminwa, het Saterdag tydens die Afrika Unie-beraad aan Reuters gesê dat haar regering “geen kommentaar” op Kainerugaba se opmerkings het nie.