Noorde moet regstaan vir vloede

Met die voorspelling van normale tot bo-normale reën, sê die Namibiese Hidrologiese Diens dit is raadsaam dat gebeurlikheidsplanne vir vloedrisiko’s geaktiveer word in die vloedgevoelige noordelike streke van Namibië, veral die westelike deel van die Cuvelai-opvangsgebied en die noordelike deel van Kunene-streek. Intussen meet die Zambezirivier by Katima Mulilo 1,07 meter terwyl die Okavango by Rundu op 5,34 meter staan. Die Kunene se vloei by Ruacana staan op 295,6 kubieke meter per sekonde. In die Suide in die benede Oranje is Blouputs op 0,49 meter en Sendelingsdrift uiters laag op 0,08.