Verlore beursie spoel uit op strand

‘n Vrou wat met haar honde op ’n strand in Brits-Columbië gaan stap het, het ’n verrassende ontdekking gemaak tussen die rommel wat saam met die gety uitgespoel het – haar eie langverlore beursie. Marcie Callawaert was op die strand van die afgeleë eiland waar sy en haar man naby Tofino woon toe sy iets bekends in die sand gewaar. Die beursie het op ‘n sonnige dag in Junie verdwyn toe Callewaert na haar boot net langs die weskus van Tofino op die kalm waters uitgeroei het. Sy het ‘n plons gehoor toe sy in die boot klim, maar het nie veel daarvaan gedink nie. Callewaert het later ontdek haar beursie was uit haar rugsak weg toe sy vir ‘n ete gaan betaal het.

Callewaert het na die gebied teruggekeer en die strand begin fynkam in die hoop dat dit op die wal uitgespoel het. Sy het haar vriende en bure ge-SMS en gevra hulle moet op die uitkyk wees vir haar donkergroen beursie – ‘n moeilike kleur om tussen die groen seewaters en natuurlike kleure van ‘n strand raak te sien.

Later, nadat sy besef wat gebeur het, het sy ‘n duiker betaal om na die beursie te soek, sonder resultate. Maar die onverbiddelike krag van die branders het uiteindelik haar beursie weer laat verskyn. Sy het gesê die beursie, kontant, kaarte en ID is steeds in ‘n merkwaardige goeie toestand.