Nog aardbewings skud Santorini
Nog ‘n klomp aardbewings het die Griekse toeriste-eiland Santorini getref. Die aardbewings vorm deel van ‘n ongekende seismiese golf wat wetenskaplikes verstom en gelei het tot die massa-uittog van inwoners. Sewe agtereenvolgende skuddings van meer as 4 in omvang is vroegoggend aangeteken. Dit volg nadat ‘n aardbewing van 5,2, die sterkste sedert die naweek, gisteraand aangeteken is. Kenners kon tot dusver nie ‘n presiese skatting gee oor wanneer die seismiese bedrywighede sal eindig nie, maar beklemtoon dit is uiters ongewoon.