Plaaslike inhoud in olie en gas verhoog risiko vir korrupsie

Wetgewing oor plaaslike deelname in die land se olie- en gas-sektor is onder die loep na die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid gesê het dit moet versnel word, en die plaaslike inhoudsbeleid moet wet word. Ander sê weer daar’s geen deursigtigheid in die sektor nie, wat korrupsie kan aanwakker en Namibiërs kan benadeel. Graham Hopwood, die direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing, het vroeër gewaarsku dat die vereistes vir plaaslike inhoudverkryging aansienlike korrupsierisiko’s inhou. Kosmos 94.1 Nuus het gesels met Hopwood, wat byvoeg dat Namibië nog nie by die Deursigtigheidsinisiatief vir Ontginningsnywerhede aangesluit het nie. Dit is ‘n globale standaard wat deursigtigheid en aanspreeklikheid in die olie-, gas- en mynbousektore bevorder.