Gesteelde, geslagte hond se maat lewendig gevind
Die vier verdagtes wat na bewering die hond Ragnir Sondag in Swakopmund gesteel, met ‘n byl doodgekap en afgeslag het, het hulle nie tot een hond beperk nie. Die Atlantic Gazette berig daar was in der waarheid twee rottweilers gesteel waarvan Ragnir een was. Die honde is elk 5 000 Namibiese dollar werd. Die ander hond is gelukkig lewendig in die DRC township gevind na die polisie-ondersoek begin het. Die 20-jarige Seth Skrywer en Mariando Bloedstaan, die 18-jarige Lourens Nanub en ‘n 12-jarige seun het Ragnir se karkas aan ‘n kapana-handelaar verkoop. Hulle is aangekla van diefstal, geldwassery en dieremishandeling.