Privaatsektor kredietverlening styg skerp in Desember

Die groei van kredietverlening in die privaatsektor het in Desember 2024 tot 4 persent op ‘n jaargrondslag versnel, die hoogste vlak sedert vroeg 2023. Korporatiewe krediet het in Desember met 5,4 persent jaar-op-jaar gegroei, vanaf 3,6 persent in November. Simonis Storm sê in sy verslag huishoudelike krediet het grotendeels stagnant gebly. Desember se groei is ‘n aansienlike versnelling vanaf 3,3 persent op ‘n jaargrondslag in November, wat die verbetering van risiko-aptyt onder maatskappye onderstreep. Op ’n jaargrondslag het die gemiddelde groei op 2,5 persent gestaan, marginaal bo die 2,4 persent wat in 2023 aangeteken is.