Japan maak weer beste poeding 

Japan het hulle goue medalje suksesvol verdedig by die Soetgebak-wêreldbeker in Lyon. Agtien nasionale spanne moes drie poedings ontwerp wat hulle land verteenwoordig – ‘n bevrore poeding, ‘n restaurantpoeding en ‘n vertoon-sjokoladegereg. Japan se wenskeppings het staatgemaak op verskeie tradisionele elemente, waaronder Kyomi-lemoen, wafelbeskuitjies wat van rys gemaak is en ‘n herhalende naaldekoker-tema. Frankryk het die silwermedalje gewen en Maleisië, die brons, wat die Suidoos-Asiese land se beste vertoning tot nog toe in die kompetisie is.