Namdia-roof: Alle oë op owerhede vir beloofde perskonferensie
Owerhede het steeds nie die beloofde perskonferensie gehou in verband met die Namdia roof nie. Beide die polisie en Namdia het gesê ‘n gesamentlike konferensie sal gehou word. Intussen is beriggewing oor die aangeleentheid uiteenlopend met bedrae van die gesteelde diamante wat steeds wissel en ver laer is as die 1 miljard dollar wat eerste berig is. Die Engelse dagblad The Namibian berig vandag oor die ontslape Max Endjala wat ‘n ‘big payday’ verlede jaar aan ‘n vriend beloof het terwyl Namibian Sun sê 446 pakkies diamante word vermis en dat die polisie homself ondersoek. Blykbaar het geen verdagtes die toneel gevlug nie. New Era beskryf Joel Angula wat Dinsdag in die hof verskyn het as die meersterbrein van die roof. Die berigte kan alleenlik opgeklaar word wanneer owerhede iets sê.