NamPol arresteer 3, soek nog 4 in Gobabis-transitoroof
NamPol het meer inligting verskaf oor die gewapende transitoroof wat Maandag op Gobabis plaasgevind het. Vier vermeende gewapende rowers het omstreeks 11-uur die oggend by die OK Foods vulstasie opgedaag waar ‘n gepantserde voertuig van Raptor gewag het om kontant op te tel. Die sekuriteitswagte is oorrompel en die rowers het ontsnap met 266 525,90 Namibiese dollar. Hulle het gevlug in ‘n silwer Volkswagen Golf Tsi met ‘n vals nommerplaat. Polisiestasies in die omgewing het dadelik padblokkades opgestel en die voertuig is op die C22-pad afgetrek deur lede van die Du Plessis polisiestasie. Kontant is op drie van die verdagtes gevind, maar geen vuurwapens nie. Die gearresteerde verdagtes sê vier ander verdagtes van Gobabis was ook betrokke en een van hulle was gewapen. Die verdagtes in aanhouding is van die noordelike streke afkomstig, maar het nog nie in die hof verskyn nie en kan dus nie geïdentifiseer word nie. Die ondersoek gaan voort.