Metaalklonte op seebodem maak glo suurstof
Wetenskaplikes het onlangs ontdek metaalklonte op die donker seebodem maak suurstof en het planne bekendgemaak om die diepste dele van die aarde se oseane te bestudeer om die vreemde verskynsel te begryp. Die aanvanklike ontdekking het marienewetenskaplikes onkant betrap. Daar is tot dusver aanvaar suurstof word slegs in sonlig deur plante vervaardig, in ‘n proses bekend as fotosintese. Indien suurstof egter in die donker deur metaalklonte vervaardig word, glo die navorsers die proses kan op ander planete ook plaasvind, wat suurstofryke omgewings skep waar lewe kan floreer.