Oud-Pakistan premier Imran Khan kry 14 jaar tronkstraf
‘n Hof in Pakistan het die voormalige premier, Imran Khan, en sy vrou, Bushra Bibi, in ʼn geskiedkundige omkoopsaak skuldig bevind en Khan tot 14 jaar tronkstraf gevonnis. Hy word sedert Augustus 2023 aangehou en van sowat 200 sake aangekla, maar sy party hou vol die jongste skuldigbevinding is om hom stil te maak. Die teenkorrupsiehof het gesit in die gevangenis naby die hoofstad, Islamabad, waar Khan aangehou word. Hy en sy vrou is skuldig bevind oor ʼn welsynstigting wat hulle saam tot stand gebring het.