Meer as 120 mense dood in bombardering in Soedan
Vrywillige reddingswerkers in Soedan sê meer as 120 mense is dood in die bombardering van ‘n gedeelte van Omdoerman, die tweelingstad van die hoofstad, Khartoem, net oorkant die Nylrivier. Volgens reddingswerkers is daar ‘n kritieke tekort aan mediese voorrade, aangesien gesondheidswerkers haas nie kon byhou nie om ‘n groot aantal gewondes, wat verskillende grade beserings opgedoen het, te behandel. Gevegte tussen die weermag en die paramilitêre Rapid Support Forces het die afgelope weke toegeneem na meer as 20 maande se oorlog in Soedan.